top of page

R300 000 per jaar uit jou boedel? ’n Eenvoudige strategie wat oor tyd ’n groot verskil kan maak

Writer: Paul Cruywagen
Paul Cruywagen
6 minutes ago
6 min read

Wanneer ons aan boedelbeplanning dink, dink ons dikwels eerste aan ’n testament, lewensversekering of ’n familietrust. Dit is alles belangrike instrumente, maar een van die eenvoudigste geleenthede lê soms reg voor ons:

die jaarlikse skenkingsbelastingvrystelling.


Vanaf die 2027 jaar van aanslag kan ’n natuurlike persoon tot R150 000 per belastingjaar skenk sonder dat skenkingsbelasting daarop gehef word. Vir ’n egpaar beteken dit dat tot R300 000 per jaar potensieel belastingvry aan kinders, ander persone of ’n familietrust geskenk kan word.


Die belangrike punt is egter nie net die R300 000 wat vandag geskenk word nie.

Dit gaan oor waar die geld daarna groei.


Hoekom kan dit vir my finansiële voordeel inhou?


Gestel ’n egpaar skenk jaarliks R300 000 vir 20 jaar.

Die totale kapitaal wat oor dié tydperk verskuif word, is:

R300 000 × 20 jaar = R6 miljoen


Maar indien daardie bedrae jaarliks belê word en byvoorbeeld teen gemiddeld 10% per jaar groei, kan die waarde na 20 jaar ongeveer R18,9 miljoen wees.


Dit kan betekenisvolle implikasies hê vir toekomstige boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting by afsterwe en boedeladministrasiekoste.


Boedelbelasting word tans gehef teen 20% op die relevante belasbare waarde tot R30 miljoen en 25% bo R30 miljoen, met die algemene R3,5 miljoen boedelbelastingkorting wat ook in die berekening ter sprake kom. Op R 18,9 miljoen praat ons dus van ongeveer R 2,5 miljoen besparing.


Maar wat as ons nie die geld direk aan die kinders wil gee nie?


’n Ouer wil dalk wel reeds begin om welvaart uit sy of haar persoonlike boedel te verskuif, maar is nie noodwendig gemaklik daarmee dat groot bedrae direk in ’n minderjarige of jong volwasse kind se naam gehou word nie.


’n Behoorlik gestruktureerde familietrust kan dan deel van die oplossing vorm.


Die jaarlikse skenkingsvrystelling is nie tot skenkings aan kinders beperk nie. ’n Individu kan dus, onderhewig aan die spesifieke feite en toepaslike belastingreëls, ook die jaarlikse skenkingsvrystelling benut om geld aan ’n familietrust te skenk.


Byvoorbeeld

’n Egpaar met ’n geskikte familietrust kan oorweeg:

  • Persoon A skenk R150 000 aan die trust;

  • Persoon B skenk R150 000 aan die trust;

  • die trust ontvang dus R300 000 gedurende die belastingjaar;

  • die trustees belê die geld volgens die trustakte, trustee-besluite en die langtermyn doelstellings van die trust.


Die volgende jaar kan die proses, indien dit steeds gepas en binne die dan geldende wetgewing is, heroorweeg en herhaal word.

So word kapitaal geleidelik en gedokumenteerd van die individue na die trust verskuif.


Die werklike geleentheid: kry die kapitaal én toekomstige groei op die regte plek


Die belangriker vraag is:

Waar behoort die familie se toekomstige welvaart opgebou te word?

Wanneer geld in jou persoonlike naam bly en daar belê word, bly die bate en die toekomstige groei in beginsel deel van jou persoonlike finansiële posisie en uiteindelike boedel.


Wanneer geld geldig aan ’n trust geskenk word, behoort daardie geld aan die trust en moet die trustees dit beheer en administreer volgens die trustakte en hulle fidusiêre verpligtinge.


Dit maak die werklike vloei van die geld na die trust belangrik.


Die strategie behoort dus nie bloot deur ’n joernaalinskrywing of ’n “skenking op papier” gedryf te word nie. Die transaksie moet behoorlik gestruktureer, gemagtig, gedokumenteer en in die trust se rekords en bank-/beleggingsvloei weerspieël word. SARS omskryf ’n skenking as ’n "gratuitous disposal of property" en bepaal dat dit eers werking kry wanneer die regsformaliteite vir ’n geldige skenking nagekom is.


Prakties beteken dit gewoonlik:


Skenker → Trust se bankrekening → Trust se belegging/bate


eerder as dat privaat geld bloot as “trustgeld” bestempel word terwyl die individu steeds daaroor beskik. Hierdie skeiding is ook belangrik vir goeie trustadministrasie en om die onafhanklikheid van die trust struktuur in die praktyk te ondersteun.


En wat van bestaande leningsrekeninge teen ’n familietrust?


Dit is waar die strategie nog ’n dimensie kry.


Baie familietrusts het oor die jare bates gekoop of beleggings gemaak wat deur ’n stigter, trustee of familielid gefinansier is. Die resultaat is dikwels ’n leningsrekening wat die trust aan daardie persoon verskuldig is.


Hier moet artikel 7C van die Inkomstebelastingwet spesifiek oorweeg word.


Waar ’n kwalifiserende lening aan ’n trust rentevry of teen ’n koers laer as die amptelike koers toegestaan word, kan die rente wat prysgegee word jaarliks as ’n geagte skenking behandel word. SARS se konsep-Interpretasienota bevestig hierdie toepassing van artikel 7C.


Met ander woorde, die jaarlikse R150 000-vrystelling kan nie sommer blindelings vir nóg R150 000 se kontantskenking gebruik word indien daardie persoon se vrystelling reeds gedeeltelik deur ’n artikel 7C-geagte skenking geabsorbeer word nie.


Dit is juis waarom bestaande trusts se leningsrekeninge jaarliks hersien moet word.


’n Belangrike onderskeid: skenking teenoor lening


Daar is ’n wesenlike verskil tussen:

R150 000 aan die trust skenk

en

R150 000 aan die trust leen.


By ’n werklike skenking word die eiendomsreg van die geld prysgegee en word dit trusteiendom.


By ’n lening verkry die persoon ’n vordering teen die trust. Daardie vordering is ’n bate van die uitlener en kan dus steeds deel van sy of haar boedel vorm. ’n Lae- of rentevrye lening kan boonop binne artikel 7C val.


Daarom behoort hierdie strategie vooraf ontwerp te word en nie bloot aan die einde van Februarie deur ’n rekeningkundige joernaalinskrywing “reggemaak” te word nie.


Die R300 000-strategie in praktyk


Vir ’n egpaar kan ’n eenvoudige langtermynraamwerk soos volg lyk:


Jaarliks

Eggenoot A

↓

R150 000 skenking

Familietrust


Eggenoot B

↓

R150 000 skenking

Familietrust


↓

R300 000 nuwe kapitaal per jaar


↓

Belê of gebruik deur trustees volgens die trust se mandate


↓

Langtermyn groei binne die familie se truststruktuur


Na 10 jaar is tot R3 miljoen se nominale kapitaal op hierdie wyse verskuif.

Na 20 jaar is dit R6 miljoen.

En dit is vóór die effek van enige toekomstige groei op daardie kapitaal.


Direk aan die kinders of eerder aan die trust?


Daar is nie één antwoord wat vir elke familie reg is nie.


Direkte skenkings aan kinders kan eenvoudiger wees en kan byvoorbeeld gekombineer word met belastingvrye beleggings. Vanaf 1 Maart 2026 is die jaarlikse belastingvrye beleggingslimiet R46 000 per persoon, met ’n leeftydlimiet van R500 000; opbrengste binne die goedgekeurde rekening is vry van inkomstebelasting, dividendbelasting en KWB.


’n Familietrust kan egter aantrekliker wees waar die familie onder andere:

  • beheer oor familiekapitaal oor generasies wil behou;

  • jong kinders of ander begunstigdes het;

  • ’n plaas, onderneming, eiendomme of beleggingsportefeulje besit;

  • opvolgbeplanning wil struktureer;

  • familiebates sentraal wil bestuur; of

  • nie groot beleggings direk in kinders se name wil plaas nie.


’n Trust is egter nie vanself ’n belastingbesparingsinstrument nie. Trustbelasting, artikel 7 en artikel 7C, artikel 25B, die Agste Bylae, die trustakte, trustee-besluite en die omstandighede van die begunstigdes moet saam oorweeg word.


CRUX Praktiese Wenke


As jy reeds ’n familietrust het, behoort jou jaarlikse belasting- en boedelbeplanningsgesprek minstens die volgende vrae in te sluit:

  1. Gebruik ek my volle R150 000 jaarlikse skenkingsvrystelling?

  2. Gebruik my gade ook sy/haar eie R150 000-vrystelling?

  3. Het enige van ons ’n lening teen die trust waarop artikel 7C van toepassing kan wees?

  4. Hoeveel van die jaarlikse vrystelling word reeds deur ’n artikel 7C-geagte skenking benut?

  5. Vloei die werklike fondse na die trust en is die transaksies behoorlik gedokumenteer?

  6. Hoe word die fondse daarna deur die trustees belê of aangewend?

  7. Pas die trust steeds binne ons groter testament-, boedel-, besigheids- en opvolgbeplanning?


Die CRUX van die saak


Goeie boedelbeplanning gaan nie slegs oor wat gebeur wanneer iemand te sterwe kom nie.

Dit gaan ook oor wat ons elke jaar terwyl ons leef met ons kapitaal doen.


’n Jaarlikse bedrag van R150 000 per persoon mag vandag relatief klein lyk teenoor die waarde van ’n plaas, onderneming, eiendomsportefeulje of beleggingsportefeulje. Maar oor 10, 20 of 30 jaar kan die konsekwente verskuiwing van kapitaal, én waar die toekomstige groei daarop plaasvind, ’n wesenlike verskil aan ’n familie se uiteindelike boedelposisie maak.


Die geleentheid lê dus nie noodwendig in ’n ingewikkelde eenmalige transaksie nie.


Dit lê dikwels in klein, korrek gestruktureerde besluite wat jaar ná jaar konsekwent uitgevoer word.


Indien jy reeds ’n familietrust het, of wil bepaal of ’n trust deel van jou langtermyn boedel- en opvolgstrategie behoort te vorm, kan CRUX Konsult jou bestaande struktuur en leningsrekeninge saam met jou hersien en bepaal hoe die jaarlikse skenkingsvrystelling verantwoordelik in jou groter beplanning geïntegreer kan word.


Belangrik: Hierdie artikel verskaf algemene inligting en is nie individuele belasting-, regs-, beleggings- of boedelbeplanningsadvies nie. Trust- en skenkingsbeplanning moet volgens elke familie se eie omstandighede, trustakte, bestaande leningsrekeninge en belastingposisie beoordeel word.

Comments


+27 22 125 0529

33 Voortrekker Street,
Porterville, 6810
51 Lang Street,
Piketberg, 7320
South Africa

  • Linkedin
  • Facebook

Crux Konsult (Pty) Ltd., Registration Number: 2018/550451/07

​

©2018 by CRUX Konsult. Proudly created with Wix.com

bottom of page